|
Verstaan van knelpunt soms politiek inkorrek
Die onluste wat in Warden losgebars het, het ‘n bykomende element wat dit effens laat verskil van wat elders gebeur waar protes oor munisipale dienslewering, of dan die gebrek daaraan, tot onluste lei.
Ja, soos elders dikwels die geval is, is die krane ook leeg. Die strate gehawend...
Daar is egter ‘n dieperliggende probleem. In die Oos-Vrystaat is verskeie munisipaliteite waarvan sommige dorpe in daardie munisipaliteite ‘n Suid-Sotho-meerderheid, en ander ‘n Zoeloe-meerderheid het. Dit skep ‘n politiek-inkorrekte dinamika.
Om ‘n eenvoudige voorbeeld te gebruik: Met die afbakening van munisipale grense is besluit om Harrismith, met sy Zoeloe-meerderheid, en Qwaqwa met sy Suid-Sotho-meerderheid, in een munisipaliteit saam te voeg. Is die burgemeester ‘n Zoeloe, word met arendsoë dopgehou of Harrismith nie meer ontwikkeling as Qwaqwa kry nie, en omgekeerd.
En mense reageer eerder op hul persepsie van die werklikheid as die werklikheid self...
Die grens waar aan die een kant meer Zoeloes, en aan die ander kant oorwegend Suid-Sotho’s woon, is verbasend diep in die Vrystaat en loop rofweg van Qwaqwa na Sasolburg. Heelwat munisipaliteite staan wydsbeen oor hierdie skeidslyn, met dorpe weerskante. Dis ook ‘n strook wat nie vreemd aan munisipale oproer is nie, en dit het bykans sonder uitsondering ‘n domino-effek, waar die onluste soos ‘n veldbrand min of meer langs hierdie lyn afhardloop, plek-plek buurdorpe betrek, en uiteindelik ook elders heen uitkring.
Die situasie in die Phumelela-munisipaliteit met Vrede as hoofdorp en Warden en Memel as die belangrikste ander dorpe, is nog ‘n trappie meer kompleks. Die meerderheid inwoners is Zoeloe met ‘n stewige Suid-Sotho-minderheid, maar dit maak weer deel uit van die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit wat hoofsaaklik, danksy Qwaqwa, ‘n Suid-Sotho-meerderheid het.
In sy jongste verslag kon die ouditeur-generaal, soos ook die vorige jaar, nie ‘n ouditmening oor hetsy Thabo Mofutsanyane of Phumelela uitspreek nie. Dit beteken sake haper op die bestuursvlak van hierdie munisipaliteite, en dat iets noodwendig op die voetsoolvlak verkeerd sal loop.
Om op hierdie lyn van Qwaqwa na Sasolburg met munisipale bestuur en finansies droog te maak is soos om op die slagpen van ‘n landmyn te sit. ‘n Ontploffing, gevolg deur nog ontploffings, is bykans onvermydelik. Dan beteken dit dadels dat die inwoners weerskante van daai lyn ewe groot ondersteuners van die ANC is, hulle glo hulle trek die kort lootjie.
Maar omdat die oorsaak politiek inkorrek is, mag dit nie hardop gesê word nie. |